Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 19 APRIL 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van George Jillings, ZS1YZ, op Saterdag 11 April 2009 stil geword het. George het in 1960 sy amateurlisensie ontvang en het ook waardevolle werk gedoen in die destydse Kongo, waar hy ‘n amateurradiostasie namens die Rooikruis bedryf het. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:


DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE VOLGENDE NAWEEK IN KAAPSTAD

RADIO ZS OP DIE WEB EN IN DIE POS

IARU STREEK-1 STEL SY NUWE WEBWERF BEKEND


U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

Kaapstad is die volgende naweek fokuspunt vir die 2009 SARL se Nasionale Konvensie. Die Konvensie begin op Vrydagaand 24 April met ‘n spitbraai, insluitend bykosse by die Barloworld Toyota Vertoonkamer in Durbanweg, Durbanville.

Om 08:00 op Saterdag 25 April open registrasie vir die AJV by die Oakdale Ontspanningsklub. Die AJV begin om 09:00 en middagete sal by die klub beskikbaar wees. Vir die gades is daar ‘n koop-uitstappie na die Waterfront; vervoer vertrek vanaf Oakdale om 09:15. Gedurende Saterdagmiddag is daar ‘n sjampanjerit op die Tigresse, of u kan Kaapstadradio besoek.

Die jaarlikse SARL-toekenningsdinee word by die Oakdale Ontspanningsklub gehou en dit begin om 19:30 vir 20:00. Die drag is semiformeel. Die gasspreker is Dr. Sias Mostert van SunSpace. Die Konvensie word afgesluit met ‘n ontbyt by die Poplars Restaurant by die D'Aria-landgoed om 09:00 op Sondag 26 April.


Die Maart/April-uitgawe van Radio ZS is Vrydag gepos en is nou beskikbaar op www.sarl.org.za. In hierdie uitgawe vertel Eli Kovo, 4X4LH, van ‘n interessante variasie op die Slim Jim-antenna wat hy die “4X4-Slimtenna” noem; ‘n interessante konsep wat beslis van nader beskou moet word. In sy nuwe Satellietrubriek bespreek Eddie, ZS6BNE, hoe om ‘n handdraagbare antenna vir satellietwerking te bou. Hy sal tydens die 2009-reeks van die ‘Radio-tegnologie-in-aksie-sessies’ (RTA) meer vertel. Die eerste word by die NARS op 9 Mei aangebied.

Frank van Wensveen, ZS6TMV / PA3GMP, beskryf voorts hoe om ‘n maklike ‘balun-omhulsel’ te bou. In ‘n artikel getiteld “Science and Technology; a two-way street”, kan u vasstel waarom amateurradio steeds die voorloper is. Dit is nog ‘n uitgawe wat u nie moet misloop nie. As u graag ‘n voorskou-kopie van die elektroniese weergawe van dié uitgawe wil hê, stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za met ‘Radio ZS’ in die onderwerplyn.


Hans, PB2T, die President van Streek 1 van die IARU sê, “Die van u wat onlangs die webwerf van IARU Streek-1 besoek het, moes opgemerk het dat dit anders lyk. Die Uitvoerende Komitee van IARU Streek-1 het besluit dat die webwerf gebruik moet maak van ‘n inhoudsbestuurstelsel om dit makliker te maak vir die UK, komitees en werkgroepe om die webwerf te gebruik. Die afgelope maand was ons nuwe webmeester, Marko, 9A8MM, en Hani, OD5TE, besig om die ou bladsye te verander na ‘n Joomla-omgewing. Wêreld-amateurradiodag 2009 is ‘n goeie geleentheid om ons nuwe webwerf bekend te stel. Moenie huiwer om voorstelle te maak nie; ons wil www.iaru-r1.org verbeter.” Marius, ZS4MP, is ook deel van die nuwe webwerf.


KOMPETISIENUUS


Die Herfs-QRP-kompetisie vind vanmiddag, Sondag 19 April, vanaf 14:00 tot 16:00 SAT plaas. Dit is 'n GG- en foonkompetisie op die 40-meterband. Deelname is beperk tot 'n draagbare of basisstasie met ‘n kraguitset van 5 watt, 1 watt of 100 milliwatt. 'n RS- of RST-verslag en die eerste jaartal van die toekenning van u lisensie word uitgeruil. Die reëls is beskikbaar in die SARL-kompetisieboek by www.sarl.org.za.

Die uitslae van die Hamnet 40-meter-nagebootste noodkompetisie, wat op 1 Maart gehou is, is nog nie deur die kompetisiekomitee vrygestel nie.

Plaaslike kompetisies vir Mei is die ZS3-kompetisie op 3 Mei; die Antieke Draadloosvereniging se vakuumbuis-QSO-geselligheid op 9 en 10 Mei en die ZS4-kompetisie op 24 Mei.

KLUBNUUS

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark op Saterdag 2 Mei 2009 by die klubhuis te Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort om 12:00. Almal is baie welkom. Vir nadere inligting skakel Willem by 082 890 6775.

Die Bloemfontein Radioamateurklub is gevra om ZS4AFV namens die SA Pantsermuseum vanaf die Bloemskou oor die tydperk 30 April tot 9 Mei te bedryf. ZS4AFV is die roepsein van die SA Pantsermuseum. Die museum sal ‘n verskeidenheid militêre voertuie, wapens en uniformstukke vertoon. Die Bloemfontein RAK is gevra om ‘n uitstalling van militêre radio’s, vanaf die No. 19-radiostel tot moderne radio’s uit te stal. Die stasie sal ook bedryf word met dié radio’s. Aktiwiteite sal op HF en BHF geskied. QSL via die buro en die SARL se elektroniese QSL-stelsel.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week besonder laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is daar geen fisiese sonvlekke op die oppervlak van die son nie. Ons beleef inderdaad in 'n diep minimum-aktiwiteitsvlak. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van data van bestaande sonvlektellings gebruik maak – en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette neig om gunstige voorspellings te bied, en moet met omsigtigheid beskou word.

Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionosfeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Die Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike rigtings gaan uitdagend wees. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan sluimer, alhoewel goeie resultate nog voor middagete verkry kan word. Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die statiese geraasvlakke nog hoog, wat goeie uitdagings bied.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

19 April – Herfs-QRP-kompetisie;
23 April – Laaste dag om vir die Mei-RAE in te skryf;
24 - 26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad;
25 April – Opedag van die Antieke Draadloosvereniging;
30 April - 9 Mei – ZS4AFV by die Bloemskou;
2 Mei – Wesrand-snuffelmark;
9 Mei – RTA by die NARS;
15 Mei – Sluitingsdatum vir die SAROT-toekenningsnominasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n ‘Podcast’-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003